JOIN OUR MAILING LIST
  Join Mailing List
 
  Naam & Van
     
  E-pos
     
  Sel nr
     
Bereken asseblief die volgende som en sit die antwoord in die blokkie
  1 plus 3 + 1 = ?
 
Bookmark and Share
Meer oor ons
Meer oor ons Photo 1 - small

BOODSKAP VAN DIE HOOF

 

Dit gaan besonders goed met ons mooi skool Dr. Malan, waarop ons baie trots is. Vir die afgelope vyf jaar borduur ons voort op ‘n wen kultuur. Die skool presteer op sport, akademies en kultuurgebied. Dit is vir ons belangrik om gebalanseerde kinders voor te berei vir die beroepswêreld daar buite.

‘n Terugblik op 2008

Die skool kan met groot trots terugkyk na ‘n skitterende 2008 (Sien Dokumente)

100% matrieksyfer

Die 1ste rugbyspan speel uit vir die Beedltrofee

2de Rugbyspan is Ligawenners en Super 10 wenners

Beste Hokkieskool in D7

Ons almal het een droom, een plan en is een span

 

 

GESKIEDENIS VAN ONS SKOOL DR MALAN

 

Die skool is vernoem na 'n voormalige Eerste Minister van Suid-Afrika en is op 7 Januarie 1953 as die Meyerton Hoërskool geopen deur die destydse waarnemende hoof, mnr HB Kloppers.
Die skoolgeboue was tydelike asbesgeboue langs die spoorlyn ongeveer 1 km noord van die stasie en by die destydse padkamp.
Die leerlingtal was 292.
Die skool was aanvanklik 'n dubbelmediumskool.
Toe mnr HE Senekal 'n jaar later diens as hoof aanvaar, was die leerlingtal 318. Op 21 Junie 1955 is die skool herdoop tot Hoërskool Dr. Malan.
Gedurende 1957 het mnr JGM Visser as hoof waargeneem en met die aanstelling van die tweede permanente hoof, mnr JHP Ackerman in 1958 is die hoeksteen van die nuwe sierlike gebou gelê deur die administrateur van Transvaal, dr WM Nicol.
Die nuwe gebou is op 28 Julie 1959 betrek en op 19 Maart 1960 amptelik ingewy deur SGJ van Niekerk, L.U.K. In 1962 word mnr AJ Combrinck hoof (met leerlingtal van 737) nadat mnr OJ Oosthuizen in 1961 waargeneem het.
In 1966 word mnr JDV Terblanche hoof.
Hy word opgevolg deur Mnre HG Pistorius, SJ Strydom, JF Grobler, K van den Bergh en AP Erasmus.

 

1953: Slegs 11 personeel begin Hoërskool Dr. Malan
1956: Dr. Malan se eerste matriekklas voltooi hulle skoolloopbaan
1963: Die skool se eerste pawiljoen word voltooi
1964: Mev. Maria Malan onthul 'n gedenknaald ter ere van Dr. DF Malan na wie die skool vernoem is
1966: 'n Borsbeeld van Dr. DF Malan word onthul
1968: Nuwe korfbalvelde en nuwe tennisbane word voltooi
1969: Die vergrote Dr. Malan as skool asook die skool se vergrote paviljoen word in gebruik geneem tydens
 Republiekfeesvieringe. Die inwyding word waargeneem deur die Administrateur van Transvaal, mnr SGJ van Niekerk
1970: Die Eerste rugbyspan is wenners van die Transvaalse afdeling van
die Administrateursbekerliga
1970: Die skoolbus word aangekoop en in gebruik geneem
1970: Die nuwe tennishuis word amptelik in gebruik geneem
1971: Die pawiljoen word amptelik oorhandig nadat nuwe staalsitplekke aangebring is
1971: Twee bykomende tennisbane word ingewy en die Busloods word in gebruik geneem
1971: 12-punt skietbaan word geskik verklaar vir gebruik
1978: Die netbalbane word van permanente oppervlak voorsien
1985: Die Eerste hokkiespan speel in die finaal van die Administrateursbeker in Pretoria teen Standerton
1986: Die Eerste krieketspan speel in die finaal van die Administrateursbekerteen Capricorn op die Wanderers
1986 - 1990: Dr. Malan wen die Interhoër Atletiekbyeenkoms 5 jaar in 'n ry.
2002: Dr. Malan se matrikulante spog met die beste uitslae in die Vaaldriehoek - 123
onderskeidings en geen druipelinge nie. Alex Puntigham behaal 8 onderskeidings

Delon Human (matrikuleer in 1979) is in 1997 aangestel as die jongste Sekr-Genl. van die Wêreld Mediese Vereniging

Piet Botha (matrikuleer 1984) speel later vir Transvaal asook Grens

Die Koos van Rensburg Klubhuis word in 2000 deur die Oud Dokkieklub ondervoorsitterskap van mnr Andre Oelofsen gebou

Leerlinge van Dr. Malan is op kulturele gebied deel van die Suid Afrikaanse span wat die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste in Amerika wen - hulle keer terug met verskeie goue medaljes

Die 0/14 netbalspan wen in 2003 die Vaaldriehoekliga en presteer, puik in die toerrnooi vir skole Noord van die Vaal

Irene van Dyk (vroeër Viljoen), die puik netbalspringbokkaptein - is 'n Oud-Dokkie!

Nadia Uys, springboknetbalspeelster in 2007

 

 

WAPEN

 

Die skoolwapen is ontwerp volgens die "Malan"-familiewapen, met slegs die slagspreuk wat verander is na "WEES GETROU". Die mielies verteenwoordig landbou en die ratte, die industrieë in die omgewing. Die groot rat simboliseer die skool wat die getrouheid en toewyding van die kleiner ratte, die leerders, skoolhoof, en gemeenskap, nodig het om suksesvol te funksioneer.

 

Visie

·        Om die leerders te begelei op 'n pad na volwassenheid deur aan hulle kwaliteit onderrig in hul moedertaal te bied

·        Meer oor ons Photo 2 - largeOns streef daarna om die jeug in die geborge milieu, met vaste ankers, geestes weerbaar te maak.

·        In die proses poog ons om elkeen se vaardighede gebalanseerd te ontwikkel vir die eise van die toekoms op akademiese, kulturele, sport, geestelike en sosiale gebied 

Missie

·        Werksplek waarop almal trots is

·        Keurige, professionele en voortreflike skool

·        Uitnemende bestuur, opbrengs op belegging

·        Outonome selfbestuur

·        Toegepaste onderwys: waagmoed, eksperimentering en onderneming

·        Voorbereiding vir lewensroeping

·        Voldoen aan die eise van die tyd

·        Gemeenskapsbetrokkenheid met mede-verantwoordelikheid en samewerking tot mekaar

 

SKOOLLIED

 

Hier in die wyd-se vlaktes,
By Kliprivier en Vaal,
verrys ons Hoërskool Malan
waarby geen skool kan haal;
Hier boor die rook die bloute in, gespierde arms smee die staal; Hier word die toekoms vasgelê
met rykdom van die grond gehaal.

Ons sal handhaaf ons sal bou, met die wagwoord: 'Wees getrou!'
Ons sal handhaaf ons sal bou, met die wagwoord: 'Wees getrou!'

Ons samel vlytig kennis,
werk dag na dag getrou;
En op die sportveld wil ons wen, ons Moeder net vir jou;
Die grote Doktor gaan ons voor;
hy wys presies waar ons moet delf, Met wyse woorde: 'Glo in God ...
ja, glo in God, jou Volk, jouself!

Ons sal handhaaf ons sal bou, met die wagwoord: 'Wees getrou!'
Ons sal handhaaf ons sal bou, met die wagwoord: 'Wees getrou!'

 

 

GEDRAGSKODE

 

-Ek beskou dit as 'n voorreg om tot Dokkieland toegelaat te word en sou dus strewe om enige bydrae te lewer ter uitbouing en bevordering van ons skool, sy aktiwiteite en tradisies.
-Ek erken die reg van my mede-skoliere om, net soos ek, aanspraak te maak op kwaliteitonderrig en daarom sorg dat onderwysers ongehinderd onderrig kan gee.
-Ek sal strewe om my waardig te gedra teenoor die onderwysers deur hulle altyd met eerbied, respek en agting te behandel.
-Ek besef dat die reëls en pligte soos neergelê vir hierdie skool noodsaaklik is en onderneem dus om die reëls in positiewe gesindheid te aanvaar, na te kom en te gehoorsaam.
-Ek erken die hoof, personeel en leerlingraad se gesag oor my en aanvaar die billike uitoefening van hulle gesag.
-My woord is my eer en eerlikheid, selfbeheersing, hoflikheid en vriendelikheid teenoor my meerderes, gelykes en minderes is deel van my daaglikse bestaan.
-Ek besef die verantwoordelikheid om my eie goeie naam, die van my ouers/voogde en die van my skool altyd hoog te hou.
-Ek glo dat gewoontes soos rook, drink, dwelms, kru-taal en dies meer verkeerd is en sal poog om my daarvan te weerhou.
-Ek sal poog om my van enige wangedrag soos bedrog, laster, diefstal, vandalisme, wapenbesit, onsedelikheid, aanranding, moord, verkragting en besit, gebruik of handeldryf van enige onwettige middel te weerhou.
-Ek onderneem om die skool gereeld en pligsgetrou by te woon.
-Ek sal deur hulp, betroubaarheid, deelname en harde werk deel wees van my skool en my so toerus om 'n waardige burger van ons land te word.
-Ek is trots op myself, my skool, my taal, my omgewing.
-Ek onderneem om enige probleme wat ek ondervind, met vrymoedigheid met die hoof, adjunkhoof of 'n personeellid te bespreek.
-Ek dank God vir geleenthede en talente en sal my bes probeer om altyd volgens my vermoë te presteer om sodoende almal wat in my belangstel, nie teleur te stel nie.
-Die uitlewing van my Christelike beginsels geniet by my die hoogste prioriteit en daarom sal ek probeer om in optrede teenoor almal onbesproke te wees.
-Ek aanvaar hierdie kode as gids vir my gedrag en sal te alle tye probeer om daarvolgens op te tree. Ek besef ook dat, indien ek in enigiets mag faal, ek my blootstel aan optrede. Ek sal egter steeds probeer om my foute reg te maak en te verbeter.
-WEES GETROU, sal in alles my leuse wees: vandag, more en vir altyd.